Oornagroetes

ROOIKRANS na OOM JAPIE (10 km)

Die eerste deel van die roete kronkel tussen die groot rotse deur totdat dit die rand van Grootkloof bereik. Die paadjie volg die rand van die hoë afgrond tot by Mooifontein se waterval. Hierdie deel van die roete is gevaarlik en stappers moet uiters versigtig wees. ‘n Grasveld bult word oorgesteek voordat die roete in S-draaikloof met verskeie watervalle onder skaduryke bome, afsak. Na nog ‘n grasbult word Gladdekloof stroomop gestap tot waar die roete die stroom verlaat en oor Suikerbosrand deur grasveld na Oom Japie lei. ‘n Halwe kilometer voor die huis kan stappers in Varingdam afkoel.

OOM JAPIE na ROOIKRANS (10 km)

Die roete daal vir 2 kilometer af in die vallei tot aan die voet van Geelhoutkrans. Hier is ‘n mooi uitkykpunt en rusplek in die skadu van groot geelhoutbome. ‘n Entjie verder is daar rotstekeninge en Bobbejaanhotel. Hier kan stappers hulle pakke agterlaat en met die staallere opklim en die “hotel” verken. Ander kan agterbly en die boesmantekeninge reg agter die boom met die bobbejaanhotelbord bekyk. Let asseblief daarop dat die tekeninge baie kwesbaar is en nie aangeraak mag word nie. Hiervandaan klim die roete na die hoër terrein en volg die rand van die plato totdat dit afdaal in die vallei en na 7km die spruit kruis. Daar is verskeie antieke en ook meer onlangse murasies op hierdie deel van die roete. Die paadjie na Rooikrans gaan opwaarts deur die tempelmurasies, weer af in die vallei, op deur Skeurkloof en met staallere tot bo die krans by die uitkykpunt. Stappers kan by Klipdam afkoel voordat Rooikrans as ‘n verrassing tussen die rotse verskyn.