Dagstaproetes

Die dagroetes se beginpunt is ongeveer 300 meter vanaf Rooikranskamp op die pad na Oom Japie se huis. Die 4 roetes is met geel spore gemerk en daar is ‘n spoeltoilet by die beginpunt.

Grootkloof – 8km – Moeilik

Die roete sak vinnig af tot onder die eerste reeks kranse by ‘n waterval. Hiervandaan kronkel dit geleidelik tot onder in Grootkloof en op langs die stroom tot by Mooifontein se waterval. Die roete gaan dan aan die voet van die hoë kranse tot by die puntjie uitkykpunt/rusplek. Vandaar daal dit skerp tot by die stroom wat telkemale gekruis word om later aan die onderpunt van Gladdekloof by die braailapa te kom. Dit is 6km vanaf die begin, onder skadubome langs ‘n pragtige skoon stroom. Hier is ‘n gasbraaier beskikbaar. Die terugroete kruis weer die stroom en draai skerp regs om onderkant Skeurkloof aan te sluit by die roete vanaf Oom Japie (wit spore). Saam gaan die roetes op deur Skeurkloof, met die staallere tot bokant die krans, verby Klipdam en Rooikrans tot by die beginpunt.

Tempelmurasie – 4.5km – Maklik

Die roete kruis die motorpad na Rooikrans by die bruggie en volg die stroom af verby Klipdam tot bokant Skeurkloof. Daarna volg dit die noordelike kant van die kloof deur pragtige rotse met uitsigte oor die vallei tot by die omheinde murasie. Die Tempelmurasie is gebou om die middelwinter sonsondergang (21 Junie) oor die kruin van Doornkop te aanskou. Die terugroete sluit by Klipdam aan by die paadjie waarmee gekom is. Hier kan stappers swem voordat hulle terugkeer na die beginpunt.

Skeurkloof – 3km – Redelik Maklik

Hierdie korter roete sak vinnig tot onderkant die kranse vanwaar dit dan geleidelik afdaal tot by die spruit waar dit skerp links draai en aansluit by die Grootkloofroete.

Sederberg – 2.5km – Maklik

Die ooreenkoms van die rotsformasies waardeur hierdie roete loop met die van die Sederberge verleen aan hom sy naam. Dit is ‘n maklike roete tussen groot rotse deur, verby ‘n uitkykpunt oor Grootkloof tot by ‘n swemgat met helder skoon water. Die paadjie terug sluit aan by die eerste deel van die roete.